Neem asseblief kennis dat ek filiasie links in my joernaal gebruik waaruit ek ʼn inkomste verdien.

Die Woord

Skriflesing: Johannes 1:1-18

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Johannes 1:1. (NLV)

Photo by Tima Miroshnichenko from Pexels

Hierdie woorde het vir my ʼn besondere betekenis. Dit laat my besef dat die Woord, die Bybel, nie net ʼn boek vol woorde is nie maar dat dit die Woord van God is waardeur alle dinge tot stand gekom het. God se Woord is verhewe bo alle dinge. Dit was reeds van die begin af daar.

In hierdie Boek vind jy ware lewe. Dit leer ons wat die waarheid is. As jy reg wil lewe moet ons nie na mense luister nie maar gaan kyk wat die Woord ons leer. Dit dien as ʼn lig vir die mens. Sonde het natuurlik hierdie waarheid kom verduister. Die Woord word gesien as maar net nog ʼn boek.

Die een wat nie die Lewe het nie is geestelik dood - al lewe hy nog. Hierdie mense leef in donkerte en jaag alleenlik hul eie sondige begeertes na. Hul weet nie van beter nie. Hierdie duisternis maak dat mense niks van die lig af wil weet nie. Duisternis is nie kragtig teen die lig nie. Die lig dring altyd deur die duisternis. Die enigste redding is om na die lig te kom. Om die Woord op te neem en daaruit te lewe.

Johannes die doper was gestuur om getuienis te lewer oor die Lig. Sy sekerheid moet ons vandag nog oordra aan elkeen wat wil luister. Dit is immers die groot opdrag van die Here dat ons die evangelie moet verkondig oor die hele wêreld heen.

Die koms van hierdie Lig is alom bekend. Die geboorte van Jesus en Sy aardse bediening word geleer van kindsbeen af. Baie het die lig steeds verwerp al het hul kennis gedra van Sy grootheid terwyl ander Hom deur geloof aanvaar het. Die wat ʼn ware ontmoeting met die lig ondervind het se lewens is vir altyd verander. 

Die Here het gelowiges aan geneem as Sy kinders en seën hul met Sy onverdiende goedheid wat ongeken is aan hierdie wêreld. Sy heerlikheid kan duidelik gesien word deur Sy kinders. 

Here, dankie dat U lig altyd sal skyn in die duisternis en dat die duisternis nooit U lig sal kan uitdoof nie. In Jesus Naam. Amen.

Bronnelys

  • Fika J van Rensburg en Marius Nel, (2009), ʼn Eenvolume – Kommentaar, Eerste uitgawe, Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy.
  • Skrifaanhalings gemerk NLV is geneem uit die Nuwe Lewende Vertaling © 2006. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.



Die Huwelik

Skriflesing 1 Korinthiërs 7:1-7 Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. 1 Kor...